OM SAAM MET BOMWERPERS, AANVALSGEWERE, MISSIELE EN KANONNE TE STAP
Dit het 3 maande se gevloekery, afbreek, opbou, hardloop, sweet, waterige poeier-eiers, vloere en skoene poets, genadelose paradewerk en basiese opleiding gekos om ons van naïewe skoolseuntjies na fikse, gedisiplineerde soldate te transformeer.
So het ek my basiese militêre diensplig voltooi by die lugmaggimnasium in Vahalla, Pretoria gedurende 1969.
Daar was talle "beroepe" waaruit 'n mens kon kies wanneer jy jou basiese opleiding voltooi het. Van kok tot hekwag. My keuse was radiotegnikus en gelukkig was dit ook toegestaan.
Vir 3 maande het ons, die aspirant radiotegnici, basiese stroombane, eletronika en die werking van die transistor by die Skool vir Tegniese Opleiding ( STO) van die Lugmag in Lyttleton gedoen. Ons instrukteur was 'n siviele man wat sopas met sy gesin uit die Belgiese Kongo gevlug het vir die Mau-Mau en 'n werkie gekry het by die lugmag. Maar dis 'n ander storie.
Dit was gedurende dié tyd wat ons laatnag in die kamp oor die radio geluister het hoe Neil Armstrong spore trap in die maan se stof.
Nà die opleiding het almal uitmekaar gespat om die laaste skof van hulle diensplig te voltooi. Party ouens was byvoorbeeld oorgeplaas na radarstasies soos, oa, Mariepskop in die Oos-Transvaal. Ander na die militêre basis in Grootfontein, Suid-Wes Afrika. Grootfontein was op die stadium maar net 'n paar stowwerige tente. Dit was voor die bosoorlog.
Ek en Hoffman was oorgeplaas na die Waterkloof lugmagbasis.
Die Waterkloof lumagbasis was die tuiste van die Hercules en C130 vragvliegtuie, asook die Mirage vegstraler eskader, en Eskader 24 - die Buccaneer bomwerpers.
BUCCANEER
MIRAGE
(Swartkops lugmagbasis het die Aluette en Super Frelon helikopters asook die troepedraers soos die Dakota's en opleidingsvliegtuie soos die Harvard, gehuisves. )
"JULLE OPLEIDING BY DIE STO WAS RUBBISH"
By die Watekloof lugmagbasis word ek en Hoffman gevat ma Sersnt Mostert wat ons nuwe baas gaan wees.
Sersant Mostert se kantoor op die Waterkloof Lugmagbasis was teenaan die " hanger " van 24 Eskader, die tuiste van die 15 Buccaneer bomwerpers.
Toe ek en Hoffman voor hom staan, gluur hy ons aan.
"My naam is ' Moze ' " het hy gesê.
"Ek is ' in charge ' van die onderhoud en paraatheid van al die 'kites' in 24 Eskader. "
Hy het altyd na die Buccaneer bomwerpers verwys as "kites"
Hy kyk na my.
" Met die opleiding wat julle by STO gekry het, wat gaan jy doen as ek jou sê Kite 623 se VHS radio werk nie.? "
"Ek weet nie Sersant" sê ek huiwerig.
"My naam is 'Moze'. Dis wat ek bedoel! Hulle het julle tyd vir 3 maande gemors en intussen moet my manne skarrel en sweet om deur die werk te kom"
Hy verduidelik dat die Lugmag in die algemeen 'n groot tekort het aan "PF" ( permanent force) tegniese "ground crew" wat moet sorg vir die instandhouding, reperasies en algemene welsyn van die vliegtuie.
Hy het toe toestemming by 24 Eskader se bevelvoerder gekry om, as 'n eksperiment, 2 dienspligtiges onder sy toesig verdere opleiding te gee om klein risiko take te verrig sodat die PF ouens meer tyd het vir belangrike onderhoudstake. Hy't ons 2 gekies.
"Dis 'n unieke geleentheid vir julle om 'n werklike konstruktiewe bydrae in die lugmag te maak. Moet my nie teleurstel nie."
Hy gee ons toe elkeen 'n lëer so dik soos 'n lever arch file.
"Hier is 'n basiese handleiding van die Buccaneer kite. Lees dit deur en raak vertroud met die Buccaneer. Stap deur die hanger, vat aan die kites, streel hulle, word lief vir hulle en bly uit die pad uit. Môre begin julle eintlike opleiding."
Inderdaad was dit 'n unieke geleentheid en die ander dienspligtiges was groen van jaloesie. Die feit dat ek en Hoffman regtig gaan werk op regte bomwerpers was amper te veel vir die ander dienspligtiges. Party van hulle wou selfs weet of ons gaan vlieg ook.
Die werklikheid om die kans te hê om aan die majestieuse vliegtuie te raak en hulle bande te skop en te ruik hoe hulle ruik, was bietjie oorweldigend in die begin.
Kortliks was dit ons taak om foutiewe radio's en radarstelle in die vliegtuie te vervang.
Wanneer 'n vliegtuig terugekeer van 'n vlug af, sou die pilot enige probleme opteken in daardie kite se logboek in die hanger. Ons moes dan enige probleem radio's of radarstelle uithaal en werkswinkel-toe vat vir herstelwerk. Wanneer die herstewerk gedoen was (gewoonlik'n paar uur later) moes ons die toestel terugsit en toets. Die ouens wat die herstelwerk gedoen het, was Britse burgers wat nie toegelaat was in die hangers nie. Dit was als deel van die koopkontrak met die Britse vervaardiger.
Voordat 'n kite sou opstyg, moes ons ook die VHS radio's toets.
Dit het die volgende behels:
1 Gaan haal die spesifieke vliegtuig se pilot se vlieghelmet uit die aantrekkamers van die pilots.
2. Gaan klim in die vliegtuig se cockpit.
3. Sit die helmet op en plug dit in.
4 Skakel die VHF radio aan.
5 Druk die transmit knoppie en sê die volgende:
"Waterklooftoring, dit is Buccaneer 623.
Waterklooftoring, dit is Buccaneer 623.
Testing VHF radio. How do you read?"
Die antwoord sou wees:
"Buccaneer 623 we read you 5,5".
5,5 beteken natuurlik die radio is OK.
6. Gaan bêre die pilot se helmet.
7. Teken die resultaat van die toets aan in die kite se logboek.
Dieselfde prosedure het gegeld vir die co-pilot se helmet en cockpit.
Die co-pitot was in beheer van die missiele, navigasie, bomme en algemene kommunikasie.
Ons moes ook die pre-flight inspeksies doen.
Is al die radio antennas onbeskadig en stewig vas?
Is die weerligafleiers nog in plek en stewig vas?
Teken aan in logboek.
"ONGEWONE" WERKSPROSEDURE.
In die lugmag het sommige ongewone reëls gegeld as jy aan vliegtuie werk:
Niemand mag jou aanjaag nie.
Jy moes rustig werk en 'n goeie job doen. Geen persoon mag 'n deadline sit op jou taak nie. Dit het nie beteken dat die ouens laks was nie. Hulle was ongelooflik lojaal aan hulle werkgewer. Baie keer het hulle deur etenstyd en teetyd gewerk. Om " hulle " kite en "hulle" pilot so gou moontlik weer in die in die lug te kry, was 'n absolute prioriteit. Hulle werksplek, oorpak en gereedskapkas was altyd spotless
skoon. Om "jou" kite weer te sien vlieg, het hulle 'n groot skop van trots en achiement gegee.
Jy mag net op "jou" kite werk.
Hierdie reël het die verantwoordelikheids-gevoel diep verskerp. As 'n skroewedraaier sou wegraak, lê dit waarskynlik in die ingewande van die kite. 'n Los voorwerp kan fatale skade veroorsaak as die kite akrobatiese bewegings in die lug doen. So, as 'n stukkie gereedskap of moertjie weg is, is slegs jy aanspreeklik.
Die ander rede was dat die Buccaneers "met die hand" gebou was. 'n Bondel elektriese kabels wat 'n kite 623 in 'n sekere posisie was, was nie noodwendig in dieselfde posisie in kite 617 nie. Hulle het gesê dat die individuele Buccaneers selfs verkillend hanteer het. Sò het selfs die inhoud van die brandstof tenks effens verskil. Jan mag nie op Koos se kite werk nie, want hy kén sy kite, en jy kén jou kite.
Elke kite het sy eie dedicated gereedskapkas gehad.
Die kas was so groot soos 'n groot koffer en was sluitbaar. Dit het alle tange, spanners, skroewedraaiers, ens. bevat wat jy moontlik mag nodig hê. Elke stukkie gereedskap se profiel was geverf in die tas waar dit gebêre was en niks het los rondgelê nie. Jy moes die kas gaan trek by die stoorman. HY het die kas oopgesluit en jy check en teken daarvoor dat alle gereedskap in die tas was. Met die terugbring van die kas, het die stoorman weer gecheck dat als teenwoordig was.
Die vasdraai van boutjies.
Sommige onderdele/toerusting ( soos radiostelle wat maklik verwyderbaar moes wees) was met boutjies vasgeskroef.
Die moertjies het elkeen gaatjie gehad. Die boutjie was altyd in pare. Om te verseker dat moertjies nie losdraai van die vibrasie nie, is 2 moertjies aanmekaar vasgemaak met 'n draadjie deur die gaatjies. Die trick is om die moertjies sò vas te maak dat, indien een moertjie sou begin losdraai, die draadjie die ander moertjie stywer vasdraai, en dus kan die moertjie nie losdraai nie.
As jy 'n draadjie te lank gemaak het, mag jy dit nie afknip nie. Wikkel die oorbodige punt om homself en maak dit vas. Afgeknipte stukkies draad kan in die ingewande inspat, rondval en kortsluitings veroorsaak. Mens kon altyd iemand se bekwaamheid sien deur te kyk hoe sy "draadwerk" gedoen was.
DIE BUCCANEER - 'N PAAR INTERESSANTE FEITE
Max "opstygmassa" 28 metrieke ton
Spesiaal ontwikkel vir lae hoogte vlug. Ou Mose het ons vertel dat die Bucc so laag kan vlieg dat sy autopilot die profiel van die deinings op die see kan volg. (Regtig? As jy 600km/uur vlieg?)
Maks. spoed .95 mach
Maks afsand 3700km
Brandstofkapasiteit ± 4 000 liter
Die duurste missiel wat die Bucc gebruik het was die lug tot grond missiel (vir militêre installasies, brûe, ens) en het destyds (1969) R 37 000.00 gekos. Elke Buccaneer was toegelaat om slegs een van hierdie missiele per jaar af te vuur vanweë die hoë koste.
WEDERVARINGE IN DIE SUID-AFRIKAANSE WAPENINDUSTRIE
Gedurende die vroeë 1980's was ek betrokke in die wapen vervaardigings-industrie.
Ons het talle onderdele en bybehore gemaak vir
G5 en G6 kanonne
R4 aanvalsgeweer
Browning masjiengeweer
Bren masjiengeweer
Missiele
Voorbereiding van toerusting waarmee nabyheidslonte ("proximity switches" ) gemaak word. Dit laat 'n bom/missiel ontplof 10 meter (sê) bo die grond sodat die skrapnel die meeste "sagte" teikens te tref.
G 5 KANON
Behalwe vir ander onderdele ( sneller, ens) het ons ook die lang "stok" of loopskoonmaker wat die ou op die regterkant vashou, gemaak.
Die wapenindustrie was onder die beheer van KRYGKOR (deesdae die sg "Denel") en het min-of-meer uit die volgende afdelings bestaan:
Lyttleton Ingenieurswerke ( gewere, handwapens, kanonne, ens)
Kentron (missiele)
Somchem ( plofstof vir bomme, missiele, dryfmiddels vir patrone en bomme) (staan vir Somerset-Wes Chemicals)
Atlas (helikopters, diens van vliegtuie, ens)
PMP (patrone vir gewere, en waarskylik bomme?) (staan vir Pretoria Metal Pressings en verwys na die maak van patroondoppies, ens)
Ek weet nie watter afdeling was bemoeid met die vervaardiging van gepanserde voertuie soos die Buffel, Casspir ( CSIR + SAP herskommel), Samil, ens nie.
ROOIKAT
CASSPIR, LANDMYNBESTANDE TROEPEDRAER
KRYGKOR het wapens en ammunisie verskaf aan die weermag as geheel, en die polisie. Hy (tesame met die WNNR) het ook wapentuig ontwikkel ( helikopters, G5 kanon, troepedraers ens) en dit met groot sukses uitgevoer. As voorbeeld van suksesvolle ontwikkeling was , bv, die G5 en G6 kanonne. Dit was die eerste 155mm kanonne ter wêreld wat van rubber wiele af kon skiet sonder dat die bande afspring van rims af agv die "recoil". Die G6 was selfaangedrewe en het kort op die G5 gevolg.
G6
Ek het self destyds in Kentron se werkswinkels 'n "drone" gesien wat herinner aan dies wat ons vandag in die movies sien. (ons het op daai stadium onderdele gemaak vir die massiewe Hanta sweefbom wat in die ontwikkelstadium was.)
Sien ook.
https://www.youtube.com/watch?v=BratyfgNLXQ
KRYGKOR het ammunisie ook uitgevoer.
(Vandag kan Denel nie eers sy personeel se salarisse betaal nie)
KRYGKOR SE KWAILITEITSBEHEER.
Daar is 3 kardinale vereistes wat kwaliteit van wapentuig betref.
1 Betroubaarheid
2 Betroubaarheid.
3 Betroubaarheid.
'n Soldaat sal nooit, ooit weer 'n wapen of voertuig vertrou wat hom op 'n kritiese oomblik in die steek laat nie. So 'n soldaat en sy makkers kan jy maar huistoe stuur.
KRYGKOR het op 'n stadium die aflewering van 5 pansertuie, uit 'n fabriek naby ons, geweier omdat daar 'n krapmerk op die speedometer se kabel was van een van die panservoertuie.
"Wat sou die soldaat/bestuurder dink as hy in 'n splinternuwe voertuig klim, en hy sien die krapmerk?", was hulle argument.
'n "Kritiese" afmeting op 'n onderdeel, van 'n geweer bv., beteken dat die onderdeel (en dus die geweer) nie sal werk nie as die kritiese afmeting buite die voorgeskrewe toleransie val. Selfs ontplof. 'n Klinknael kan bv. effense te dun wees om sy job behoorlik te doen.
Om "redelik en realisties" te wees, het KRYGKOR (of Lyttleton Ingenieurswerke in so 'n geval, ) gesê hulle sal maks 2 onderdele aanvaar uit 1 miljoen waarvan die kritiese afmetings buite die voorgeskrewe perke val. Maar dan moet jy dit kan bewys.
As jy elke maand 20 000 onderdele aflewer, is dit onmoontlik om so 'n bewys te lewer.
Die enigste manier om aan hierdie standaard van kwaliteit te kan voldoen is dmv Statistiese Kwailiteittsbeheer.
STATISTIESE KWALITEITBEHEER.
Veronderstel jy moet 10 000 pennetjies maak waarvan die dikte 10 mm moet wees. Dit word gespesifiseer dat slegs .002% van die pennetjies dunner 9.9mm mag wees, en dat slegs .002% mag dikker as 10.1mm wees.
Jy stel die CNC draaibank op 10mm pennetjies uit 12mm ronde staal te draai.
Nadat die masjien 'n paar honderd pennetjies gemaak het, neem jy 'n handvol pennetjies en meet die diktes.
'n Garfiek van die resultate sal bv. so lyk:
'n Baie klein persentasie gaan dunner wees as 9.9mm en 'n baie klein persentasie gaan dikker wees as 10.1mm.
Dit is nou redelik maklik om deur die toepassing van statistiese waardskynlikheids-teorieë te bereken wat die werlike persentasie van die pennetjies is wat kleiner is as 9.9mm en wat groter is as 10.1mm.
Die verstommende feit is dat die sample wat jy neem om te meet, nie baie groot hoef te wees om redelike akkurate afleidings te maak tov van die diktes van AL die pennetjies nie. Maw 'n sample van omtrent 20 afmetings kan die eienskappe van , sê 1000, items redelik akkuraat weerspieël.
Bg veronderstel natuurlik dat die vervaardigingsproses en meetproses konsekwent en stabiel is. 'n Draaibank met verweerde hoof "bearings"
kan nie so 'n normaalverspreiding produseer nie. Die afmetings gaan heeltemal "erratic" wees.
Hierdie konsep was die brainchild van 'n ene Walter Shewhart van die VSA.
Dr. Juran , ook van die VSA, het dit begin toepas op vervaardigingsprosesse en na die 2e wêreldoorlog, het hy sy idee aan General Motors probeer "verkoop". Hulle het egter gedink dis twak en aangehou met argaïese kwaliteitsbeheer tegnieke, soos om alles te probeer meet en check. Sodoende het hulle aangehou scrap maak en tyd en geld gemors.
Gedurende die 1950's het Japan baie belang gestel in Dr Juran se konsep. Hy het opleiding in Japan gedoen en later veral vir die Toyota fabriek.
Toyota het sy tegnieke ernstig toegepas hulle motors se kwaliteit en standaard het met rasse skrede verbeter, en kort voor lank het hulle die wêreldmark vir gesinsmotors oorgeneem.
Almal ken die Toyota "jingle"
"Alles loop reg altyd reg, Toyota"
Alles te danke aan Dr Juran se Statistiese Kwaliteitsbeheer Tegiek.
(SAPPI in Suid-Afrika gebruik ook die tegiek om die dikte van papier tydens die vervaardingingsproses te kontroleer.)
KRYGKOR het baie geld spandeer om Dr Reynolds, 'n eertydse vennoot van Dr Juran, uit die VSA te laat kom (verskeie kere) om KRYGKOR se sub-kontrakteurs, soos ons, verniet opleiding in die tegniek te gee. (En natuurlik "Statistical Probabilty Theory" - wat nogal complicated kon wees). Ons moes selfs eksamens skryf, maar ek dit fascinating gevind.
So, wanneer ons een maal 'n maand, sê, 10 000 van 'n sekere onderdeel moes aflewer, het die inspekteurs van Lyttleton Ingenieurswerke nie die fisiese afmetings van die onderdele ge-check nie. Hulle het bloot gekyk na die grafieke en meet-data om die graad van akkuraatheid van die vervaardigingsproses te beoordeel. Baie vinniger en meer betroubaar.
DIE R4 AANVALSGEWEER
Ons het 5 onderdele van die R4 gemaak, oa die korrel en blitsbreker op die punt van die loop.
R4
KRYGKOR (Lyttleton Ingenieurswerke) het die R4 onder 'n lisensie van Israel gemaak, waarskynlik uitsluitlik vir die SA Weermag. Dit was Israel se antwoord op die Russiese AK47.
Die R4 en AK47 het dieselfde ammunisie gebruik en die AK47 was waarskynlik in die miljoene vervaardig.
Die groot verskil tussen die 2 gewere is dat die R4 se "chassis" uit 'n soliede blok metaal gemasjineer was, terwyl die AK47 se "chassis" uit plaatmetaal gestamp was. Blykbaar het die Duitsers die Russe touwys gemaak om die tegniek te vervolmaak, en dit het die AK47 baie goedkoop gemaak asook redelik maklik om te produseer. En dus het dit die voorkeurwapen geword van terroriste organisasies (soos die voorlopers van die ANC).
'n Groot voordeel van die R4 was dat dit in staat was om granate te lanseer, amper soos 'n mortier, terwyl die plaatmetaal "chassis" van die AK47 te swak was daarvoor.
Gedurende die 1980's het die bosoorlog en stedelike terroriste-aanvalle in SA end gekry en het bestellings van KRYGKOR begin opdroog.
Mettertyd het die besigheid ook tot niet gegaan.
Dit was egter die opwindingste en mees stimulerende era in my loopbaan en het my laat besef dat my akademiese kwalifikasies vir my eintlik nie veel beteken nie.
Eintlik moes ek 'n Passer en Draaier geword het sodat ek met ysters kon werk. Soos my oupa wat die eerste grofsmit in die Vrystaat was.
Van die masjiene wat on gehad het:
CAMPORESSI AUTOMATIESE DRAAIBANK
EMI-MECH ATOMATIESE DRAAIBANKE (DRIE)
HARRISON DRAAIBANK
MAHO CNC FREESMASJIEN
Behalwe vir bg. het ons ook, slypmasjiene, 'n bandsaag, 'n groot freesmasjien, nog 2 klein draaibanke, skroefdraarolmasjien, "fly-press", ens gehad. En verskeie, baie fancy meetinstrumente.
No comments:
Post a Comment